Die Slag van Majuba

Die Eerste Vryheidsoorlog

In die hele 19de eeu tot vandag toe het Groot Brittanje net een oorlog verloor: teen die Boere van Transvaal gedurende Desember 1880 tot Maart 1881. Bowendien is Groot Brittanje in al die veldslae van hierdie oorlog verslaan: Bronkhorstspruit (20 Desember 1880), Laingsnek (28 Januarie 1881), Ingogo (8 Februarie 1881) en Majuba (27 Februarie 1881).

 

Wat was die hoofoorsaak van die Eerste Vryheidsoorlog?

Dit lê in die feit dat Groot Brittanje op 12 April 1877 die vrye, onafhanklike Transvaalse Republiek geannekseer het en dit ‘n kolonie van die Britse Ryk gemaak het. Sir Theophilus Shepstone , goewerneur van Natal, het dit in opdrag van die Britse regering gedoen. Dit was ‘n verbreking van die Sandrivier-Konvensie van1852.

Aanhoudende proteste deur die Boereleiers se deputasies na die Britse owerhede in Londen en in die Kaap – o.a. deur Paul Kruger – op grond van die Sandrivier-Konvensie, het egter na drie jaar (1877-1880) steeds op dowe ore geval. ‘n Reeks protesvergaderings wat deur duisende Boere op verskillende plekke gehou is, het die dreiging van oorlog duidelik uitgespel.

‘n Nuwe protesvergadering is vir 8 Desember1880 op die plaas Paardekraal opgeroep. Hier het ‘n vergadering van tienduisend Boere die onafhanklikheid van Transvaal uitgeroep en die Volksraad herstel onder leiding van Paul Kruger, Piet Joubert en MW Pretorius. ‘n Proklamasie wat die herstel van die Transvaalse Republiek aankondig, is dadelik aan die Britse owerheid gestuur. Dit het ‘n oorlogsverklaring beteken. Heidelberg is as tussentydse hoofstad gekies.

 

Die Slag van Majuba

Vandag is dit die 137ste herdenking van een van die veldslae van hierdie oorlog : Die Slag van Majuba. Die ou Romeine het ‘n spreuk gehad: “Montari simper liberi.” Dit beteken bergklimmers is altyd vry: Vir die Boere het dit op 27 Februarie 1881 letterlik waar geword. Hoe hoër hulle Majuba – Berg van duiwe – opgegaan het, hoe vryer het hulle geword! Die Boere onder genl Piet Joubert het die Engelse onder genl George Pomry Colley verpletterend verslaan. Colley het ook tydens die slag gesneuwel.

Die Boere het in drie afdelings die berg bestorm: In die middel regs na bo assistant-veldkornet Fanus Roos en sy manne; regs van hom kommandant Joachim Ferreira en sy manne en links assistant-veldkornet Danie Malan met sy manne. Roos het die noordelike flank aangeval en het oos van Gordon se koppie oor die berg gekom. Ferreira het die westelike flank aangeval en oor die berg by Mc Donald se koppie gekom. Malan het die oostelike flank aangeval en oor die berg by Hays se koppie gekom.

   Die Boere se taktiek was meesterlik. Die gebruikmaking van “dooie grond”, dws waar die vyand jou nie kan sien nie en kruisdekking met akkurate vuur was dodelik.Feitlik ongesiens het die Boere in ‘n lang halfmaan rondom die Majubakruin al nader en nader beweeg. Dit was met ‘n ongelooflike geduld vir ses ure lank. Teen elfuur se kant  was die voorstes alreeds onder die regop kranse van die kruin ….

Die betekenis van Majuba

Naas Bloedrivier was die veldslag van Majuba vir die Boere die belangrikste in hulle geskiedenis. Die betekenis is onberekenbaar:

1.       Afrikaners met hul eie identiteit van taal en kultuur en ‘n eie volksbestaan soos alle ander volke in die wêreld, het met Majuba, ‘n voldwonge feit geword.

2.       Die Britse politieke beleid in Afrika moes aangrypende aanpassings maak. Sy kolonialisme het ‘n nuwe dimensie gekry.

3.       Maar helaas, Majuba het die grootste wraak van Groot Brittanje wat nog ooit teen die klein Boerevolkie gepleeg is, ontketen. Die Britse trots kon nooit die vernedering van Majuba verwerk nie. Koningin Victoria het met verbittering uitgeroep:”I do not like peace before we have retrieved our honour.” “Remember Majuba!” het die Engelse se nuwe strydkreet geword. Die oorlog van 1899 tot 1902 tussen Boer en Brit het op ‘n massale bloedvergieting uitgeloop…

 

Majuba – Berg van duiwe

Majubaberg staan 2 150 meter bo seespieël. Die Zoeloes noem hom Majuba – berg van duiwe. Staan ‘n mens op ‘n helder dag op die kant van Majuba se top, sien jy  in alle rigtings byna eindelose panoramas. Na die suide sien jy die pragtige middelande van Natal met die reuse Drakensberge na jou regteroog se kant toe. In die weste lê die Oranje-Vrystaat. Na die noorde wink die heuwels en dale van Oos-Transvaal. En na die ooste gaan jou oë oor Laingsnek waar die Boere hulle stellings gehad het.

Op die berg Majuba staan jy op ‘n uitkyktoring van die Boere-Afrikaner se geskiedenis. Die woord “vryheid” kry hier ‘n aanskoulike betekenis. En ook die woord “vrede” word geweldig belangrik. Inderdaad “Berg van duiwe.”