Tweeledige verbond. Paardekraal, 29 November 1986

Soos ons voorgeslag wanneer hulle aan die vooraand van ’n groot stryd gestaan het, het die AWB hom ook in ’n Gelofte aan God Drie-Enig verbind.

Die Beweging, het ’n volgende fase in sy stryd om die herstel van die Boererepublieke binne gegaan toe hy op 29 November 1986 klein geword het voor sy Skepper en in biddende ootmoed by wyse van ’n Tweeledige Verbond ’n Gelofte aan God gemaak het. Die Gelofte, wat tydens ’n groot saamtrek op die Paardekraalse feesterrein in gietende dog verkwikkende reën afgelê is, sluit ook die Gelofte was in 1838 deur die Voortrekkers by Bloedrivier gemaak is, in.
Die tweede gedeelte van die Verbond bevat ’n onderneming tussen volksgenote onderling “om tot die dood toe aan mekaar getrou te bly in die stryd om die herstel van ons vryheid in ’n Christelike Republikeinse Boerevolkstaat en om die offers ter bereiking van die ideaal te bring” – Voorwaar gelaaide woorde.

Hierdie Verbond is hierna weer op twee geleenthede herbevestig te wete op 10 Oktober 1987 te Bloedrivier en ook op Majubadag, 27 Februarie 1987 in die Skilpadsaal, Pretoria.

TWEELEDIGE VERBOND In teenwoordigheid van die Almagtige Drie-enige God, onder biddende opsien om Sy genade, hulp en ontferming en bewus van ons verantwoordelikheid voor God en teenoor ons volk rig ons ’n tweeledige verbond op:

Eerstens met God
In nederige erkentlikheid teenoor U, Drie-enige God, beskikker oor die lotgevalle en toekoms van volke en deur wie se beskikking ook die Boerevolk tot stand gekom en tot volwaardige volk uitgegroei het, is ons hier byeen om gehoor te gee aan U Woord in Psalm 50:5 waarin U ons oproep om die offer by die GELOFTE te bring en volgens vers 14 ons beloftes aan God die Allerhoogste te betaal:
Vers 5: “Versamel my gunsgenote vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit!”
Vers 14: “Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste;”

Voor U buig ons ootmoedig in berou en skuldbelydenis. Ons vra om Christus wil vergifnis van ons volk se sondes. Ons bid om krag vir die offer van terugkering en diens. Ons onderneem as volk en as individuele volksgenote:
1. Om ons volksroeping te vervul, naamlik om heilig te lewe, U dankbaar te dien en te eer en U Koninkryk te laat kom.
2. Om ons voortdurend tot U te bekeer.
3. Om getrou te wees in die omgang met U Woord en die beoefening van die gebed.
4. Om elk ’n lewende en getroue lidmaat van die gemeente van U Seun, Jesus Christus, te wees.
5. Om die Dag van die Here heilig te hou.
6. Om die Gelofte van Bloedrivier te handhaaf en na te kom wat soos volg lui: “My broeders en mede-landsgenote, hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ’n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ’n dankdag soos ’n Sabbat sal deurbring, en dat ons ’n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”

Tweedens rig ons met mekaar ’n verbond op

Steeds gedagtig aan die offer van die verbond, wil ons in teenwoordigheid van die Kenner van die harte aan mekaar sê: Kom lê jou hand in myne volksgenoot, sodat ons voor die Heilige God met mekaar ’n verbond kan sluit:
1. Om tot die dood toe aan mekaar getrou te bly in die stryd om die herstel van ons vryheid in ’n Christelike Republikeinse Boerevolkstaat.
2. Om die offers te bring wat ter bereiking van diè ideaal geverg en gevra sal word.
3. Om ons kinders Christelik-Nasionaal op te voed.
4. Om elke onderneming waartoe ons ingestem het, nougeset na te kom. So waarlik help ons God Almagtig.

Die kommando wat van Pretoria af gery het, kom in gietende reën by Paardekraal aan