AWB MEDIAVERKLARING

Die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) het met skok en teleurstelling  kennis geneem van die vernietiging van die AMPIE BOSMAN kultuurhistoriese museum tesame met sy inhoud deur ‘n brand op Dinsdag 24 Oktober 2023 te Lichtenburg.

Dié insident is deel van ‘n patroon wat al meer beskadiging en vernietiging van Afrikanerkultuurskatte en Boereerfenisterreine tot gevolg het: grafskendings, verdwyning van kultuurhistoriese voorwerpe in die sorg van staatsbeheerde liggame, vandalisering van Boere-gedenkterreine en insidente van brandstigting wat permanente verlies van die Afrikaner se kultuurhistoriese erfenis tot gevolg het.

Die vernietiging van die Ampie Bosman kultuurhistoriese museum is die mees resente en waarskynlik die grootste verlies aan kosbare erfenisbates en onvervangbare kultuurskatte wat die geskiedenis van die Boerevolk op die platteland uitbeeld. Dié verlies is die direkte gevolg van wanbestuur op alle regeringsvlakke en vorm ‘n patroon wat te Lichtenburg met die vandalisering van genl. Koos de la Rey se graf en diefstal van sy borsbeeld aldaar ‘n aanvang geneem het. In dié geval het die onbeholpe ondersoek van die SAPD nog geen nadelige gevolge vir die skenders gehad nie. In geval van die Ampie Bosman kultuurhistoriese museum is die vernietiging voorafgegaan deur twee dae van betogings, brandstigting en openbare oproer. Die SAPD het geen sigbare stappe geneem om openbare geboue en eiendom te beveilig nie, ten spyte van die feit dat alle aanduidings bestaan het dat openbare eiendom bedreig word.

Die AWB hou die SAPD direk verantwoordelik vir die gebrek aan polisiëring en beveiliging van erfenisbates wat tot hierdie ramp aanleiding gegee het. Voorts word die Munisipale owerheid aanspreeklik gehou vir die onverantwoordelike wyse waarop dié kultuurhistoriese museum bestuur en instand gehou is. Ten spyte van herhaalde oproepe dat die artefakte en versamelings in dié museum onder beter erfenisbestuur geplaas word is daar niks aan gedoen nie.

Die AWB versoek dat die SAPD spoedeisend die resultate van die ondersoek na moontlike brandstigting sal openbaar. Voorts oefen die AWB die reg uit om self ondersoek na die oorasake van die brand te doen, die omvang van die skade te bepaal en diegene wat vir die verlies verantwoordelik is, aanspreeklik te hou. Die AWB doen ook ‘n dringende oproep aan bruikleenhouers van artefakte wat vernietig is om met die AWB in verbinding te tree sodat siviele aanspreeklikheid van die betrokke owerheidsinstansies bepaal kan word.

Uitgereik deur:              AWB

Datum :                            25 Oktober 2023

Navrae : Steyn von Rönge  –   Leier van die AWB

                                           awbhoofkantoor777@gmail.com       018 – 2643669

                                           steyn@awb.co.za                                 082 – 5745365