DIE VOLKSRAAD HET ALLES PROBEER VIR VRYHEID

Soos berig in DIE AFRIKANER

DIE VOLKSRAAD HET ALLES PROBEER VIR VRYHEID

 Tydens die terugvoerings van die Boere-Afrikanervolksraad, is

 volledig oorsig gegee van die aktiwiteite van die Volksraad, en

  die aksies wat gevoer is om die eis van Afrikaner-selfbeskikking,

  nasionaal en internasionaal te propageer.

 

Die begin

Die proses het begin met ʼn volksvergadering in Augustus 2007, waar die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) in die lewe geroep is onder voorsitterskap van mnr. Paul Kruger.

Op 25 September 2011 het die VVK ʼn landwye verkiesing gefasiliteer waar 17 kandidate hulleself verkiesbaar gestel het om te dien in die Boere-Afrikanervolksraad.  Van hierdie kandidate het gekom uit volksorganisasies soos die Verkennerbeweging, HNP, AWB, Kommandokorps en ander, terwyl ander kandidate nie aan bepaalde organisasies verbonde was nie.

Op 10 Oktober 2011, 109 jaar na 1902, is daar weer ʼn Volksraad van 9 lede ingehuldig soos deur die volk verkies.  Die lede wat daar ingehuldig is, is mnre. Andries Breytenbach, Abel  Malan, Henk van de Graaf, Ben Geldenhuys, Steyn van Ronge, Sakkie van der Merwe, Tiaan Theron, Frans Jooste en Etienne le Roux. Na die afsterwe van Etienne le Roux en Abel Malan, en die bedankings van Frans Jooste, Ben Geldenhuys en Henk van de Graaf, is hulle plekke ingeneem deur ds. Ferdie Devenier, en mnre. Frans Pieterse en Alwyn de Klerk.

Die mandaat wat die Volksraad gekry het, is om deur middel van ʼn vreedsame regsproses die Boere-Afrikanervolk se eis om territoriale selfbeskikking aan die Suid-Afrikaanse regering te stel, en indien die regering nie gunstig daarop sou reageer nie, die internasionale gemeenskap te versoek om as bemiddelaar tot die dispuut toe te tree.  Die Volksraad het hierdie opdrag uitgevoer en afgehandel met 31 Mei 2017 as die finale sperdatum.

Alhoewel daar gepoog is om die werksaamhede gouer af te handel, was dit nie moontlik nie as gevolg van omstandighede waaroor die Volksraad geen beheer gehad het nie.

Die werk begin

Direk nadat die Volksraad met sy werksaamhede begin het, is ʼn volledige eis om selfbeskikking geformuleer. Met die insette van onder andere akademici, regslui en ander rolspelers is die eis geformuleer op die basis van die oorsprong van ons as volk, die historiese agtergrond, morele waardes, prinsipiële oorwegings en die juridiese gronde.

Hierdie dokument is by ʼn volksvergadering aanvaar en onderteken op 13 Oktober 2012 te Paardekraal.

Kort na die inhuldiging van die Volksraad is daar reeds aan die regering  ʼn skrywe gerig gedateer 25/10/2011 met die versoek om met hulle in gesprek te tree aangaande die eis om selfbeskikking op ʼn eie grondgebied. Die skrywe, tesame met opvolgskrywes gedateer 17/11/2011, 08/02/2012, 17/02/2012, 05/06/2012 en 17/10/2012 is onbeantwoord gelaat deur die regime.

Daarop het die Volksraad probeer om ʼn afspraak te maak vir samesprekings, maar sonder enige sukses.

Die volgende stap was ʼn klagte by die SA Menseregtekommissie (MRK) teen die regering op 30/11/2012, terwyl die Verenigde Nasies hiervan in kennis gestel is. Byna ʼn jaar later, op 29/08/2013, ontvang die Volksraad ʼn antwoord van die MRK met die opmerking dat dit ʼn baie komplekse aangeleentheid is en dat die Volksraad dit eerder voor die howe moet plaas vir beslegting.

Papieroorlog

Intussen het die Volksraad reeds op 06/05/2013 opdrag aan sy regsverteenwoordiger gegee om ʼn skrywe  aan die Ministerie van Grondwetlike Aangeleenthede te rig met die versoek om die aangeleentheid te bespreek. Die Staat beweer toe hulle het nie afskrifte van die reeds gevoerde korrespondensie van die Volksraad nie.

Op 27/09/2013 is weer ʼn breedvoerige prokureursbrief met afskrifte van vorige korrespondensie gerig met verwysing na artikel 235 van die Suid-Afrikaanse grondwet, sowel as die bepalings van die internasionale volkereg se bepalings.

Op 25/10/2013 is die versoek herhaal en word gesê dat ons aanspraak maak op bemiddeling van die MRK van die VN indien die presidensie ons langer bly ignoreer.

Op 18/12/2013 is ʼn e-pos van ene adv. Sigodi ontvang met ʼn versoek om die aangeleentheid uit te stel tot 15/01/2014. ʼn Verdere skrywe gedateer 15/01/2014 is van adv. Sigodi ontvang met die verweer dat die regsadviseurs van die staat nog nie aandag aan die aangeleentheid kon geen nie.

Op 17/01/2014 gee die Volksraad instruksie aan sy regspan dat die staat genoegsame tyd gegun is om te reageer, dus gaan die Volksraad voort met ʼn regsproses.

ʼn Hooggeregshof-aansoek is in Pretoria gebring in die saak Boere-Afrikanervolksraad vs. President van die Republiek van Suid-Afrika, saak nr. 32656/14. Die Staat dui aan dat hulle die aangeleentheid gaan verdedig, maar hulle tyd verstryk vir die liassering van hulle opponerende stukke. Hulle versoek daarop dat hulle tyd verleng word, maar weer versuim hulle om stukke betyds in te dien.

Toe dit blyk dat die saak op verhoor moet gaan, word ʼn skrywe van die Staatsprokureur ontvang met die versoek om met die Volksraad in gesprek te tree. Die Volksraad het hierdie aksie dus loshande gewen omdat die staat nie presteer het nie en toegegee het aan samesprekings.


Tydens die terugvoervergadering by Paardekraal het die ondervoorsitter van die Volksraad,           mnr. Steyn von Rönge, die oorsig oor die Volksraad se bedrywighede uiteengesit.

 

Samesprekings vind plaas

Die samesprekings vind toe uiteindelik op 28/08/2014 in die kantoor van die land se president in die Uniegebou plaas. Die regeringsafvaardiging is gelei deur die adjunk-president – op daardie stadium die waarnemende president – Cyril Ramaphosa en sluit sy minister van justisie, Masutha, in. Die Volksraad se afvaardiging is gelei deur die voorsitter, mnr. Andries Breytenbach. Saam met hom was mnre. Henk van de Graaf en Ben Geldenhuys, terwyl mnr. Paul Kruger as regsverteenwoordiger saamgegaan het.

Ramaphosa is voorsien van ʼn voorlegging aangaande die agtergrond en grondslag  van die Volksraad se eis om selfbeskikking.

Ramaphosa het nooit te kenne gegee dat ʼn moontlike ooreenkoms nie bereik kan word deur middel van art. 235 van die grondwet nie.  Hy het wel voorgestel dat die Volksraad met die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, in gesprek tree om sodoende die voorbereiding en die voorstel van die bepaalde wetgewing te bewerkstellig omdat dit funksies van die presidensie en die kabinet is. En, het Ramaphosa gesê, “ons almal kry ons opdragte van daardie man met die growwe stem.” Hy het daarop onderneem om ʼn afspraak te reël tussen die Volksraad en Mantashe. Die Volksraad se standpunt was egter dat hulle nie met die ANC praat oor selfbeskikking nie, maar met die regering van die dag wat veronderstel is om sy grondwet na te kom.

Nadat op voorstel van Ramaphosa ooreengekom is dat alle korrespondensie in die toekoms slegs sal geskied deur die onderskeie partye se regsverteenwoordigers, is dit bevestig in ʼn skrywe gedateer 10/09/2014. Dit was die laaste wat van hulle gehoor is. Op 31/01/2015 het mnr. Kruger versoek dat die proses momentum moet kry, maar tot hede is geen terugvoer van enige aard van die regering ontvang nie.

Op 17/04/2015 wend mnr. Kruger ʼn laaste poging aan deur middel van ʼn skrywe aan die regering en stel dit dat indien die samesprekings nie van die grond af kom voor 31/05/2015 nie, dit beskou sal word as ʼn eensydige opskorting deur die staat ten einde ʼn vreedsame oplossing vir die aangeleentheid te vind.

Daarop is nooit enige reaksie van enige party ontvang nie.

Daarmee was die Volksraad van mening dat hy alle binnelandse remedies uitgeput het met die doel om die geskil vreedsaam te besleg.

Internasionale bewusmaking

Deur die hele proses was daar reeds skakeling met verskillende groepe en instansies in die buiteland.

So is ʼn formele skrywe van die Volksraad aan minister Papuna Davitaia in die Republiek van Georgië oorhandig, waarin die bestaan en doel van die Volksraad uiteengesit is.

Verteenwoordigers van die Volksraad het opgetree op konferensies in Boedapest, Hongarye en in Rome, Italië. ʼn Besoek is aan die VN se Menseregtekommissie in Genève gebring om eerstehandse inligting te bekom oor hoe die proses behoort te verloop. Gesprekke is gevoer met lede van die Europese Parlement, die Vlaamse Parlement, die Belgiese Kamer en Senaat en lede van die Nederlandse parlement. Daar was ook ʼn besoek aan Israel waar die Volksraad bekend gestel is en goeie kontakte opgebou is. In Australië is die saak van die Volksraad ook aggressief uitgedra en bevorder.

Oral is die boodskap van die Volksraad goed ontvang, en was daar meer begrip in die buiteland vir die Afrikaner se posisie as wat dalk onder ons eie mense besef word.

Met al die binnelandse remedies intussen uitgeput, was die laaste uitweg om bemiddeling van die buiteland te probeer kry deur middel van die Verenigde Nasies.

Art 1 (1) van die internasionale volkereg bepaal dat alle volke die reg op selfbeskikking het. Op grond hiervan is ʼn uitgebreide memorandum opgestel en op 18/11/2016 persoonlik afgelewer by die VN in Genève, die Europese Parlement en die Vlaamse parlement, met die versoek om toe te tree tot die geskil en die aangeleentheid te bemiddel met die sperdatum van 31/05/2017. Die memorandum is ook aan ambassades beskikbaar gestel.

Tussentydse optrede

Daar is intussen voortgegaan met gesprekvoering met ander groeperings, buite-parlementêr sowel as binne-parlementêr, ten einde bondgenootskappe te vestig ter ondersteuning van die Volksraad se doelstellings.

Op 07/12/2016 is die memorandum  aan die Israelse ambassadeur in Suid-Afrika oorhandig, op 03/04/2017 is gesprek gevoer met “the first secretary for political affairs of the USA”. Op 13/04/2017 was daar samesprekings met die adjunk-ambassadeur van Nederland en is die memorandum tot sy beskikking gestel.

Die onderskeie individue is die saak goedgesind, maar hulle onderskeie regerings handhaaf nie dieselfde standpunte nie.  Sodoende val die versoek om internasionale bemiddeling, soos verwoord in die memorandum, op dowe ore.

Die memorandum aan die internasionale gemeenskap verwoord die Boervolk se eis om selfbeskikking.  Die dokument is een van die volledigste dokumente wat die geskiedenis van die Boervolk uiteensit, wat die werksaamhede van die Volksraad volledig beskryf, wat bewysstukke insluit oor die geskiedenis en gevolglike gronde vir die eis om selfbeskikking, asook alle korrespondensie insluit wat met al die partye gevoer is.