SKOP VAS TEEN ONTEIENING

G’n onteiening  sonder betaling!

As die Regering dit goed dink om my grond of enige eiendom of bate te onteien (met of sonder vergoeding ) omdat ek ‘n “begunstigde van apartheid” is, dan moet hy alle belastings wat op hierdie grond betaal was – grondbelasting sowel as die inkomste belasting en BTW  (voorheen algemene verkoopsbelasting) aan my terugbetaal.

Volgens die Regering se eie mening en redenasie was hy dan ook ‘n begunstigde van apartheid deur hierdie belasting te aanvaar en te gebruik.

Die Regering tref geen onderskeid tussen die vorige eienaars  (wat  al lankal oorlede is) en vandag se eienaars van die grond nie en aanvaar net dat ons een en dieselfde persoon  is.  Ek aanvaar dus ook dat ‘n regering, ‘n regering is en tref geen onderskeid tussen hulle nie.  Daarom soek ek terugbetaling van al die belastings wat deur myself en die vorige eienaars van die grond betaal is.

Die hele probleem met die “grondkwessie” is dat mense in die eerste plek die propaganda  begin aanvaar dat ‘n regering die reg het om private grond  te onteien.  Stadig maar seker het hy miljoene mense se denke beinvloed en verander sodat die kwessie van onteiening nie meer  reg of verkeerd  is nie, maar hoe dit gedoen gaan word.   Stadig maar seker  is wette sonder te veel teenkanting aanvaar.  Nou bevind ‘n mens jou in die posisie om te moet onderhandel oor hoe goedkoop jy jou goed gaan weggee.

Ja, dit is maklik om te sê daardie tyd is lankal verby en ons moet konsentreer op die probleem  wat voor ons lê.  Ek  is egter van mening ons moet ‘n bietjie gaan stil sit en dink hoe ons hier gekom het,  voor  ons enige verdere skuiwe maak.  Ons moet besef hoe hierdie proses verloop het om seker te maak dat ons nie weer in ‘n rigting geskuif word sonder dat ons dit weet en eers later besef hoe vêr ons geskuif is nie.  Dit is deur net te aanvaar wat voor ons gesit word,  dat ons nou in hierdie huidige situasie beland het.

Ek vra myself nou en dan die  vraag af hoe swak ‘n mens is as hy nie teen ‘n swak regering kan of wil opstaan nie?  Daar is nog baie wat   aan die saak gedoen kan word as jy net bietjie dink.  Moet nooit die propaganda glo wat sê jy is magteloos nie.  Onthou altyd, dit is jou grond, jou belastinggeld, jou kos wat jy aan  die mark verkoop en jou kennis wat produksie moontlik maak.

Elke mens moet begin om persoonlik verantwoordelikhede te aanvaar.  Die dae  van stil sit en wag  vir iemand anders om iets te doen,  is lankal en vir altyd verby.  Ons moet eerder onsself afvra wat ons omtrent hierdie saak gaan doen.  Niemand anders is vir jou toekoms verantwoordelik nie.  Jy moet self besluit:  wil ek swem of wil ek versuip?   Jy is nie magteloos nie, inteendeel.

Die vraag is nou :  Hoe gaan jy jou kaarte speel ?

LBW OPINIONATED