• Slider Image

GEDAGTE VIR VANDAG 19 APRIL 2024

OPENBARING 9

Die vyfde basuin of die eerste wee.

1EN toe die vyfde engel blaas, sien ek ‘n ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee.

2En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die put soos rook van ‘n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die put verduister.

3En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene van die aarde mag het.

4En aan hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige groenigheid of enige boom moet beskadig nie, maar net alleen die mense wat die seël van God nie op hulle voorhoofde het nie.

5En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van ‘n skerpioen wanneer hy ‘n mens steek.

6En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.

7En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense.

8En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus.

9En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog.

10En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen.

11En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion.

12 Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë.

Die sesde basuin of die tweede wee.

13EN die sesde engel het geblaas, en ek het ‘n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is,

14en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat.

15Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ‘n derde van die mense dood te maak.

16En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor.

17En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan.

18Deur hierdie drie plae is ‘n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het;

19want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan.

20En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.

21En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.

GEDAGTE VIR VANDAG 18 APRIL 2024

ROMEINE 1

Opskrif en seëngroet.

1PAULUS, ‘n dienskneg van Jesus Christus, ‘n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God —

2wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte,

3aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid

4en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here,

5deur wie ons genade en die apostelskap ontvang het om geloofsgehoorsaamheid te verkry onder al die heidene ter wille van sy Naam,

6onder wie julle ook is, geroepenes van Jesus Christus —

7aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!

Die geloof van die Romeine. Paulus se vurige verlange om hulle te sien.

8IN die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld.

9Want God, wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun, is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink

10en altyd in my gebede smeek of ek tog nou eindelik ‘n goeie geleentheid sal vind deur die wil van God om na julle te kom;

11want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word;

12dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my.

13Maar, broeders, ek wil julle nie daarvan onkundig laat dat ek my dikwels voorgeneem het om na julle te kom nie — en ek is tot nog toe verhinder — sodat ek ook onder julle een of ander vrug kan insamel net soos onder die ander heidene.

14Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek ‘n skuldenaar.

15Vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome is, die evangelie te verkondig.

Die regverdigmaking deur die geloof.

16WANT ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.

17Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.

Afgodery en verdorwenheid van die heidene.

18WANT die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk,

19 omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.

20Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

21omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.

22Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword

23en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.

24Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer —

25hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.

26Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is;

27en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.

28En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:

29hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;

30nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers;

31onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig,

32mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.

GEDAGTE VIR VANDAG 17 APRIL 2024

EWIGE LEWE

Die dood is ‘n deur na die ewige lewe,

Ek hoef nie meer daarvoor van angs te bewe.

God self het daardeur ingegaan

en die weg na die ewigheid vir my gebaan.

PSALMS 23

Die Here is my herder.

1 ‘n PSALM van Dawid.

Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.

2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

4Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Verander vandag nog jou lewe sodat jy beter toegerus is vir wat kom,

want Jesus het verseker dat jy tot in ewigheid sal lewe.

GEDAGTE VIR VANDAG 15 APRIL 2024

NAHUM 1

Die toorn van die Here oor sy vyande en sy goedertierenheid oor sy volk.

1 GODSPRAAK oor Ninevé. Die boek van die gesig van Nahum, die Élkosiet.

2’n Jaloerse God en ‘n wreker is die Here, ‘n wreker is die Here, en vol grimmigheid; ‘n wreker is die Here vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande.

3Die Here is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die Here ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete.

4Hy dreig die see en maak dit droog en laat al die riviere opdroog; Basan en Karmel kwyn weg, en die groenigheid van die Líbanon verwelk.

5Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon.

6Wie sal standhou voor sy grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn? Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom.

7Die Here is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.

8Maar met ‘n oorstromende vloed maak Hy ‘n einde aan die plek van die stad, en sy vyande vervolg Hy die duisternis in.

9Wat wil julle beraam teen die Here? Hy maak daar ‘n einde aan; die benoudheid sal nie twee maal opkom nie.

10Want al is hulle saamgevleg soos dorings, en soos hulle drank so deur en deur nat — hulle sal soos droë stoppels volkome verteer word.

11Van jou, o stad, het een uitgegaan wat kwaad teen die Here beraam het, wat verderflike planne gemaak het.

12So sê die Here: Al is hulle ook in volle krag en só groot in getal, tog sal hulle net só afgemaai word en vergaan. (Ek het jou verneder, Ek sal jou nie meer verneder nie;

13maar nou sal Ek sy juk van jou af verbreek en jou stroppe stukkend ruk.)

14Maar die Here sal dit oor jóú verorden: Van jou naam sal daar nie meer gesaai word nie; Ek sal uit die huis van jou god uitroei die gesnede en die gegote beelde; Ek sal vir jou ‘n graf maak, want jy is te lig bevind.

15Kyk, op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor: Vier jou feesdae, o Juda, betaal jou geloftes! Want die snoodaard sal nooit weer deur jou gebied trek nie; hy is heeltemal uitgeroei!

GEDAGTE VIR VANDAG 11 APRIL 2024

MIGA 4

Belofte van heil en seën in die Messiaanse tyd.

1EN aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom.

2En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem.

3En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.

4 Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die Here van die leërskare het dit gespreek.

5Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van die Here onse God vir ewig en altoos.

6In dié dag, spreek die Here, wil Ek versamel die wat kreupel is, en bymekaarmaak wat verdryf was, en die wat Ek kwaad aangedoen het.

7Dan sal Ek die wat kreupel was, tot ‘n oorblyfsel maak en wat ver verwyder was, tot ‘n magtige nasie. En die Here sal koning wees oor hulle op die berg Sion, van nou af tot in ewigheid.

8En jy, Skaapstoring, Heuwel van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy sal kom, die koningskap vir die dogter van Jerusalem.

9Waarom skreeu jy nou so hard? Is daar geen koning in jou nie? Of het jou raadgewer omgekom, sodat smart jou aangegryp het soos van een wat baar?

10Krimp inmekaar en bring voort, o dogter van Sion, soos een wat baar! Want nou sal jy die stad verlaat en op die veld gaan woon; en jy sal in Babel aankom — dáár sal jy gered word, dáár sal die Here jou verlos uit die hand van jou vyande.

11En nou is daar baie nasies teen jou versamel wat sê: Laat haar ontheilig word, en laat ons oë met welgevalle neersien op Sion.

12Maar hulle ken nie die gedagtes van die Here nie en verstaan nie sy besluit nie, dat Hy hulle versamel het soos gerwe op die dorsvloer.

13Staan op en dors, o dogter van Sion! Want Ek sal jou horing yster maak en jou kloue koper, en jy sal baie volke fyn trap; en jy sal hulle onregverdige wins aan die Here toewy en hulle rykdom aan die Here van die ganse aarde.

14Nou sal jy by hope bymekaar moet kom, o dogter van krygsbendes; die vyand het ‘n wal teen ons opgegooi; met ‘n stok slaan hulle die regeerder van Israel op die kakebeen.

GEDAGTE VIR VANDAG 10 APRIL 2024

HEBREËRS 8

Die ou verbond is ‘n voorbeeld en is verbygaande. Christus is die Middelaar van ‘n beter en ewige verbond.

1DIE hoofsaak nou van wat ons gesê het, is dít: Ons het so ‘n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele,

2’n Bedienaar van die heilige dinge en van die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ‘n mens nie.

3 Want elke hoëpriester word aangestel om gawes en offers te bring. Daarom moes Hy ook iets hê om te offer.

4Want as Hy op aarde was, sou Hy selfs geen priester wees nie, omdat daar priesters is wat volgens die wet die gawes offer,

5hulle wat ‘n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge bedien, soos Moses ‘n goddelike bevel ontvang het toe hy die tabernakel sou voltooi; want Hy het gesê: Kyk dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat jou op die berg getoon is.

6Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is.

7Want as daardie eerste een onberispelik was, sou daar nie plek vir ‘n tweede gesoek word nie.

8Want Hy berispe hulle en sê: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond tot stand sal bring,

9nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek die Here.

10Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

11En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle.

12Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.

13As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.

GEDAGTE VIR VANDAG 8 APRIL 2024

BELOFTE EN BEDREIGING UITGEPREEK BY DIE TEMPELPOORT.

JEREMIA 5:20-21

20 Verkondig dit in die huis van Jacob, en laat dit hoor in Juda en sê:

21 Hoor dit tog, o dwase en verstandelose volk, wat oë het, maar nie sien nie:

wat ore het, maar nie hoor nie!

JEREMIA 6:17-19

17 Ek het ook wagte oor julle gestel en gesê.

Luister na die geluid van die basuin, Maar

hulle het geantwoord; Ons wil nie luister nie.

18 Daarom, hoor, o nasies! En weet, o

vergadering, wat onder hulle is!

19 Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor

hierdie volk, die vrug van hulle planne;

want na my woorde het hulle nie geluister nie

en my wet, het hulle verwerp.

GEDAGTE VIR VANDAG 4 APRIL 2024

ONS IS GOD S’n

Onthou net jy is nooit alleen,

daar’s Iemand by jou: God se Seun!

Hy sal jou help en deur alles dra,

as jy by Hom bly en sy hulp vra.

PSALMS 107

Danklied van die verlostes.

1  LOOF die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!

2 Dit moet die verlostes van die Here sê, wat Hy uit die nood verlos het

3 en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af.

4 Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; ‘n stad om in te woon het hulle nie gevind nie.

5 Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag.

6 Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered.

7 En Hy het hulle gelei op ‘n regte pad om te gaan na ‘n stad om in te woon.

8 Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;

9 want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.

10 Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters —

11 omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het,

12 het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.

13 Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.

14 Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.

15 Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;

16 want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.

17 Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is —

18 hulle siel het ‘n afsku gehad van elke soort voedsel, en hulle het tot by die poorte van die dood gekom.

19 Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.

20 Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.

21 Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;

22en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.

23 Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters —

24 húlle het die werke van die Here gesien en sy wonders in die diepte.

25 Want Hy het gespreek en ‘n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het.

26 Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes — hulle siel het vergaan van wee.

27 Hulle het getuimel en gewaggel soos ‘n dronk man, en al hulle wysheid is verwar.

28 Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei.

29 Hy het die storm ‘n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword.

30 Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte.

31 Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders.

32 En laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom roem in die kring van die oudstes.

33 Hy het riviere ‘n woestyn gemaak en waterfonteine ‘n dorsland,

34 vrugbare land ‘n brak aarde, oor die boosheid van die wat daarin woon.

35 Hy het die woestyn ‘n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine;

36 en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het ‘n stad gestig om in te woon.

37 En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte as opbrings verskaf het.

38 En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie.

39 Toe het hulle min geword en weggesink deur die druk van onheil en kommer —

40 Hy wat veragting uitstort oor edeles en hulle laat dwaal in ‘n woeste wêreld, sonder pad —

41 Hy het die behoeftige beskerm teen verdrukking en die geslagte soos kuddes gemaak.

42 Die opregtes sien dit en is bly, maar alle ongeregtigheid hou sy mond toe.

43 Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenhede van die Here.

Vra Jesus vandag om by jou

te bly en jou te wys hoe

om jou probleme op te los.

VANDAG 14 JAAR TERUG MOES ONS U GROET

Eugene Ney Terre Blanche
31 Januarie 1944 ~ 3 April 2010

Toe ander moeg geword het, was hy die moedige dryfkrag

Toe ander wou struikel, het hy gerig

Toe ander moedeloos geword het, was hy die inspirasie

Toe ander wou opgee, het vasberadenheid stukrag gebring

 Toe die pad toegekap gelyk het, het hy ongekende horisonne oopgebreek

Toe die stryd verlore gelyk het, het sy visie nuwe vêrgesigte aangedui

Vir hom dank ons die HERE

Sy rotsvaste geloof in sy Skepper was vir ons ’n voorbeeld

Sy sterk beginsels, doelgerigtheid en fyn beplanning het vertroue geskep

Sy roepings bewustheid en koersvaste leiding het sekerheid gegee

Sy ongereserveerde selfopoffering het ons verleë gelaat

Sy menslikheid het ons nederig gemaak

Vir sy vriende en kamerade was sy innige liefde vir sy vaderland en sy mense ’n aansporing

Vir sy vyande en kritici was sy helder denke en suiwer logika ’n geweldige probleem

Teenoor hom het niemand ongeërg of neutraal gestaan nie

Hy was ’n seun van die veld wat ’n ark moes bou

Hy was die kind van ware Afrikaner-nasionalisme

Hy was ’n Godsman, Volksman, Vaderlander

Hy was die Boerseun met ’n roeping 

GEDAGTE VIR VANDAG 3 APRIL 2024

PSALMS 10

OORDEEL TOG DIE GODDELOSES

Die vromes roep om hulp teen hoogmoedige vyande

1 Waarom staan U so ver weg, Here?

Waarom trek U U terug in tye van nood?

2 Die goddeloses is vol van hulleself, hulle vervolg ‘n hulpelose man.

Laat hulle gevang word deur die sluwe planne

wat hulle self uitgedink het.

3 Die goddelose verlustig hom nou al

in wat hy hoop om in die hande te kry.

Die een wat hom wil verryk ten koste van ‘n ander,

wens homself by voorbaat geluk.

Hy verag die Here.

4 Neus in die lug sê hy:

“God vra tog geen rekenskap nie!”

In al sy planne is daar geen plek vir God nie.

5 Dit gaan mos altyd goed met wat hy aanpak.

U oordele is vir hom te ver weg, buite sy gesigsveld.

Hy snork met veragting oor al sy vyande.

6 Hy dink: ek sal nie wankel nie

en die ongeluk sal my nooit tref nie.

7 Hy lê ‘n vloek op almal,

hy onderdruk en bedrieg,

hy bedink onheil en onreg.

8 Hy lê onskuldiges voor agter die heinings

en vermoor hulle in die geheim.

Hy loer rond in die donker.

9 Hy lê op die loer in ‘n wegkruipplek soos ‘n leeu agter ‘n bos,

hy lê op die loer om die hulpelose te vang.

Hy vang hom en trek hom vas in sy net,

10 hy slaan hom dat hy inmekaar sak.

So kry hy die arme mens in die hande.

11 Hy sê vir homself:

“God steur Hom nie daaraan nie,

Hy kyk weg,

Hy sal dit nooit raaksien nie.”

12 Kom tog, Here! Toon u mag, o God!

Moet die hulpeloses tog nie vergeet nie.

13 Hoe durf die goddeloses God verag

en reken Hy sal hulle nie uitvind nie?

14 En die hele tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet.

U let daarop en maak daar ‘n einde aan.

Op U verlaat die ongelukkige hom,

ook vir die weeskind is U ‘n helper.

15 Verbreek tog die magsgreep van die goddelose en van die misdadiger,

straf sy misdade!

Moenie een enkele van sy misdade verskoon nie.

16 Die Here bly altyd koning,

die vyande is uit sy land verdryf.

17 U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here.

U gee hulle nuwe moed.

U verhoor hulle gebed.

18 U behartig die regsaak van die weeskind en van die mens in nood,

sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.