Steyn vön Ronge

Steyn vön Ronge was 20 jaar lank lid van die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) toe hy op 6 April 2010 benoem is as nuwe leier. Dit het gevolg op die moord op die vorige leier, Eugene Terre Blanche, op 3 April 2010. Sy doelwit is ‘n sekuriteitsplan om die volk te lei. Hy het voorheen waargeneem as leier van die AWB toe Terre Blanche in die tronk was.

AWB: Leier Steyn vön Ronge het by die AWB aangesluit in 1983, gedurende die eerste referendum, aangesien hy nie saam met PW Botha se besluite gestem het nie en volgens Leier vön Ronge Suid-Afrika op die afdraande pad gaan stuur. Hy vorder spoedig tot onderleier en voorsitter van die Beweging.

Familie en studies: Hy is ‘n derde geslag boer in Suid-Vrystaat. Steyn is getroud met Cornelia vön Ronge. Hy het twee dogters en ‘n seun.

Leier vön Ronge het in 1972 matriek geslaag by Hoërskool Zastron. Gedurende sy diensplig was hy by die Suid-Afrikaanse Lugmag in Pretoria, waar hy ‘n liggaamlike opvoeding instrukteur was. Hy het B.Com. studeer by Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) en toe sy klerkskap by ‘n ouditeursfirma voltooi.

Agtergrond: Leier vön Ronge boer op die plaas Nooitgedacht in die Zastron-distrik, Suid-Vrystaat. In 1993 is hy gevonnis tot ‘n boete van R2,000 of ses maande tronkstraf nadat hy twee swart lede van die Weermag op sy plaas gewond het. Leier vön Ronge se plaas grens aan Transkei en daar was ’n Apla-opleidingskamp in die omgewing van waar aanvalle in die verlede op boere geloods is.