Dopamien Verslawing

’n Tyd gelede skrik ek wakker met die vraag:  Hoekom moet skoolgeld betaal word vir die implementering van “IT”?  Ek is op die Beheerraad van ’n Hoërskool hier op ons dorp en  “IT”  is my portefeulje. Ons het ons beywer om te kyk wat die beste manier is sal wees om tegnologie in te span in die leerproses.

Ek en ’n vriend het besluit om ’n kongres aan te bied en kundiges gekry om met die onderwysers te kom gesels oor “IT” in die onderwys. Dit was ’n baie suksesvolle kongres wat in die Lord Charles hotel gehou is. Die Minister van Opvoeding van die Wes-Kaap, senior amptenare van die WKOD en  van die Universiteit van Stellenbosch, het insette gelewer oor die onderwerp.

Ek het sterk gevoel dat daar ook iets gesê word oor die invloed wat “IT” op die leerling kan hê.  In my voorbereiding kry ek te doen met die werk van Brad Huddleston, skrywer van die boek: Digitale Cocaine. Hy sê onder andere dat 2 uur se intense gaming gelykstaande is aan een strepie kokaïen snuif.

Hy verduidelik dat die gevoel van genot wat ’n mens kry van gaming of enige ander aangename aktiwiteit afkomstig is van dopamien wat deur ’n hormoon in die mens se brein afgeskei word. Die kyk van pornografie, dwelmmisbruik en omtrent alle ander afhanklikhede, skei dopamien in ’n mens se brein af en gee dan die “lekker gevoel.”

Die probleem is dat die brein die mens beskerm teen té veel dopamien en dan rig hy ’n versperring op. Om volgende keer weer dieselfde gevoel van genot te kry, moet daar nou méér van die pornografie gekyk word, méér dwelms gebruik word of méér gedoen word van wat ook al die dopamien aktiveer.

Dit is dalk nou ’n baie teoretiese of biologiese verduideliking van afhanklikheid, maar dit is presies wat die oorsaak is waarom mense genot op verkeerde plekke soek. Ons brein beskerm ons, maar omdat ons nie wil luister nie, doen die mens net nog meer en in die proses verval hy of sy in afhanklikheid.

En dit is presies wat Paulus voorspel:… En dan is daar mense wat nooit genoeg kan kry nie. Hoe meer hulle het, hoe meer wil hulle hê.  Asof dit hulle god is, wy hulle al hulle tyd en energie daaraan om net al hoe meer in die hande te probeer kry.

Partykeer kan ons tog so dom wees. Dit laat dink my aan die liedjie van Johnny Lee wat sing: I was looking for love at all the wrong places, looking for love in too many places… Ons soek vir liefde of vreugde of erkenning of wat ook al op verkeerde plekke en dan verstaan ons op die ou end nie hoekom alles uitmekaar val nie.

As ons ons lewe met verkeerde dinge vol maak, of dit nou seks of pornografie of geld of mag is, is daar nie plek vir God nie.  Sonder dat ons dit besef, neem die dinge ons lewe oor en God word uitgeskuif. Die vreemdste van alles is dat mense dan op die ou end na God roep en nie kan verstaan hoekom God nie daar is nie.

Hier is ’n groot waarskuwing: Bly weg van die dinge waar God nie is nie. Dit is ’n pad van selfverwoesting. En nee, dis nie altyd die erge dinge nie. Kyk maar net na die gewone dinge wat God na die uithoeke van jou lewe druk  Raak ontslae daarvan.  Maak tyd en ruimte vir God. Dan sal dit goed gaan met jou, al die dae van jou lewe.

Teks:  Kolossense 3:5-6

Om oor na te dink:  Wat neem God se ruimte in jou lewe?  Hoe moet jy dit uitkry?  Is daar iemand wat jy moet help?

Gebed:  Vader, die vyand gebruik subtiele maniere om ons van U te vervreem. Maak ons asseblief bewus van die gevare van enige iets wat ons tyd en aandag van U wegneem. Amen.

Shalom
Gerjo Ben