Die Overvaal Skoolsaak
Die staat (onderwysdepartement) en ondersteuners van die EFF, ANC en SAKP se optrede in die Overvaal-skoolsaak toon onmiskenbaar dat dit nie vir hulle om die kinders se belange gaan nie, maar eerder om nóg ’n Afrikaanse skool te verengels. Daarom is hoofde van omliggende skole deur die departement geïntimideer om valse verklarings te maak, betoog die mense by die skool en dreig selfs om dit af te brand.
Ons dank aan regter Prinsloo wat in die skool se guns beslis het. Hy kon dit doen omdat die skool se getalle reeds vol is, en nie om die Afrikaanse kultuur van Overvaal te beskerm nie, want die Grondwethof het mos reeds op 21 Junie 2016 uitspraak gelewer wat daarop neerkom dat “any reliance by white South Africans, particularly White Afrikaner people, on a cultural tradition founded in history, finds no recognition in the Constitution.” Daarom weet die departement dat hy met ’n appèl tot in die Grondwethof waarskynlik sy sin sal kry. Oorvol taxi’s, busse, treine en skole pla daardie mense nie.
Wat is die kanse dat ’n Afrikaanse kind aanspraak kan maak op sy grondwetlike mensereg om by ’n Engelstalige skool toegelaat te word en daar in Afrikaans onderrig te word? ’n Ronde nul, want telkens werp die menseregte net na die een kant toe en is dit die Afrikaner wat moet bes gee. Van De Klerk se “wigte” en “teenwigte” sien ons net die (ge)wigte van die blink uitgevrete ministers en amptenare wat hulleself help en ons vertrap.
Hoe smalend sommige mense ook al oor ons strewe na selfbeskikking mag wees, dring dit ook al meer tot volksgenote deur dat eie regering vir ons volk in ’n eie staat die enigste oplossing is vir ons behoud, want in ’n demokrasie bepaal getalle, en slegs getalle, die gang van sake, niks anders nie. En wee jou as jy een van ’n wit minderheid in ’n swart “democracy” is!
AE BREYTENBACH
Voorsitter van die Boere-Afrikanervolksraad en
Leier van die HNP
18 Januarie 2018