• Slider Image

GEDAGTE VIR VANDAG 25 APRIL 2024

RIGTING VIR VANDAG 2 KRONIEKE 17:20

“Wat het ek jou gesê?” sê die koning van Israel vir Josafat. “Hy doen dit altyd! Hy voorspel nooit enigiets anders nie as net slegte nuus vir my.”

LIG UIT DIE WOORD

Sommige mense soek net advies wat hulle graag wil hoor; hulle soek in gebed van God net die antwoorde wat hulle veheug. Ons moet die goeie saam met die slegte aanvaar. Dit is noodsaaklik dat jou geloof in God wat vir jou altyd net die beste wil. Wat nou vir jou verborge en onverstaanbaar lyk, sal eindelik blyk God se volmaakte wil vir jou lewe te wees.

Vertrou op Christus en wy jou lewe aan Hom toe; vra Hom om jou probleme oor te neem en daarmee na sy wil te handel. Dan sal jy die lewe draaglik vind en sien hoe God vir jou sorg. Laat jou geloof in jou hart bevestig dat Christus die beste weet, dan sal sy volmaakte plan vir jou toekoms ontvou.

II KRONIEKE 17

Voorspoed en mag van Jósafat.

1EN sy seun Jósafat het in sy plek koning geword en hom versterk teen Israel.

2En hy het ‘n leërmag in al die versterkte stede van Juda geplaas en wagposte in die land Juda opgestel en in die stede van Efraim wat sy vader Asa ingeneem het.

3En die Here was met Jósafat, want hy het in die vroeëre weë van sy vader Dawid gewandel en die Baäls nie gesoek nie,

4maar die God van sy vader gesoek en in sy gebooie gewandel en nie gedoen soos Israel nie.

5Daarom het die Here die koningskap in sy hand bevestig; en die hele Juda het aan Jósafat geskenke gegee, sodat hy rykdom en eer in oorvloed gehad het.

6En sy hart het moedig geword in die weë van die Here, en verder het hy die hoogtes en die heilige boomstamme uit Juda verwyder.

7En in die derde jaar van sy regering het hy sy owerstes Ben-Hail en Obádja en Sagaría en Netáneël en Migája gestuur om in die stede van Juda onderrig te gee;

8en saam met hulle die Leviete Semája en Netánja en Sebádja en Ásahel en Semíramot en Jónatan en Adónia en Tobía en Tob-Adónia, die Leviete; en saam met hulle die priesters Elisáma en Joram.

9En hulle het in Juda onderrig gegee met die wetboek van die Here by hulle, en in al die stede van Juda rondgegaan en onder die volk onderrig gegee.

10En ‘n skrik vir die Here het gekom oor al die koninkryke van die lande wat rondom Juda was, sodat hulle nie teen Jósafat oorlog gevoer het nie.

11En van die Filistyne het vir Jósafat geskenke en ‘n vrag silwer gebring; selfs die Arabiere het vir hom kleinvee gebring: seweduisend-sewehonderd ramme en seweduisend-sewehonderd bokke.

12So het Jósafat dan aldeur groter geword, buitengewoon groot, en in Juda forte en voorraadstede gebou.

13En hy het groot voorrade in die stede van Juda gehad, en krygsmanne, dapper helde, in Jerusalem.

14En dit was hulle getal volgens hulle families: Van Juda was owerstes oor duisend: die owerste Adna en saam met hom driehonderdduisend dapper helde;

15en naas hom was die owerste Jóhanan en saam met hom tweehonderd-en-tagtigduisend;

16en naas hom was Amásia, die seun van Sigri, wat hom gewillig getoon het vir die Here, en saam met hom tweehonderdduisend dapper helde;

17en uit Benjamin was Éljada, ‘n dapper held, en saam met hom tweehonderdduisend, gewapen met boog en skild;

18en naas hom was Jósabad en saam met hom honderd-en-tagtigduisend, vir kommando gewapen.

19Hulle was in die diens van die koning, behalwe die wat die koning in die versterkte stede deur die hele Juda geplaas het.

GEDAGTE VIR VANDAG 24 APRIL 2024

LIG UIT DIE WOORD

ELKE GESLAG IS OP DIE EEN OF ANDER TYD BEKOMMERD OOR DIE TOESTAND VAN DIE WêRELD WAARIN HULLE LEEF. OORLOë WOED, RAMPE TREF MENSE, HONGERSNOOD EN DROOGTE EIS HULLE TOL, PESSIEKTES MAAI MILJOENE MENSE AF. MENSE WONDER DEUR DIE EEUE HEEN WAT HULLE DAARAAN KAN DOEN. DAN IS DAAR HULLE WAT WANHOOP EN WAG VIR DIE ERGSTE OM TE GEBEUR. DIE ONWEERSPREEKBARE WAARHEID IS DAT GOD SY SKEPPING LIEFHET: SY LIEFDE IS INDERDAAD SO GROOT DAT HY SY SEUN GEGEE HET VIR DIE VERLOSSING VAN DIE MENSDOM. DIS DAAROM ONDENKBAAR DAT HY SY SKEPPING IN DIE STEEK SAL LAAT. WANNEER DIE LEWE NIE VOORSPOEDIG VERLOOP NIE EN ALLES IN DUISTERNIS GEHUL IS; WANNEER TELEURSTELLING EN TERUGSLAE JOU TEISTER, MOENIE WANHOOP NIE. KLOU VAS AAN JOU GELOOF IN DIE ALMAGTIGE GOD EN VADER. PLAAS JOU VERTROUE IN SY BELOFTE DAT HY ALTYD BY JOU SAL WEES (HEB.13:5). HY IS IN ALLE OMSTANDIGHEDE IN VOLLE BEHEER VAN ELKE SITUASIE.

II KRONIEKE 16

Asa verbind hom met Aram teen Israel. Sy dood.

1IN die ses-en-dertigste jaar van die regering van Asa het Baésa, die koning van Israel, opgetrek teen Juda en Rama gebou om niemand van Asa, die koning van Juda, te laat uit- of ingaan nie.

2Toe bring Asa silwer en goud uit die skatkamers van die huis van die Here en van die huis van die koning en stuur dit na Bénhadad, die koning van Aram, wat in Damaskus gewoon het, om te sê:

3Daar is ‘n verbond tussen my en u, en tussen my vader en u vader; kyk, ek stuur u silwer en goud; gaan verbreek u verbond met Baésa, die koning van Israel, dat hy kan optrek weg van my af.

4En Bénhadad het geluister na koning Asa en die owerstes van sy leërmagte gestuur teen die stede van Israel, en hulle het Ijon en Dan en Abel-Máim en al die voorraadstede van Náftali verwoes.

5En sodra Baésa dit hoor, het hy opgehou om Rama te bou en sy werk gestaak.

6Toe neem koning Asa die hele Juda, en hulle het die klippe en balke van Rama, waarmee Baésa gebou het, weggedra; en hy het daarmee Geba en Mispa gebou.

7En in dié tyd het die siener Hanáni na Asa, die koning van Juda, gekom en aan hom gesê: Omdat u op die koning van Aram gesteun en nie op die Here u God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak.

8Was die Kusiete en die Líbiërs nie ‘n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie? En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die Here gesteun het;

9want die Here — sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees.

10Maar Asa het hom vererg vir die siener en hom in die gevangenis gesit, want hy was hieroor woedend op hom; ook het Asa in dieselfde tyd sommige uit die volk verdruk.

11En kyk, die geskiedenis van Asa die vroeëre en die latere, dit is beskrywe in die boek van die konings van Juda en Israel.

12En in die negen-en-dertigste jaar van sy regering het Asa gely aan sy voete; sy siekte was baie ernstig; maar selfs in sy siekte het hy die Here nie geraadpleeg nie, maar die geneeshere.

13En Asa het ontslaap met sy vaders en gesterwe in die een-en-veertigste jaar van sy regering.

14En hulle het hom begrawe in sy graf wat hy vir hom in die stad van Dawid gegrawe het, en hom op die bed neergelê wat vol speserye was, en dit van allerhande soorte, volgens die kuns van ‘n salfmenger klaargemaak; en hulle het vir hom ‘n buitengewoon groot wierookbrand aangesteek.

GEDAGTE VIR VANDAG 23 APRIL 2024

II KRONIEKE 10

LIG UIT DIE WOORD

HOEVEEL KWALITEIT VERLOOR ONS NIE IN DIE LEWE DEUR SWAK BESLUITE NIE, DEUR KOSBAARHEDE TE VERRUIL VIR DIT WAT NIE STANDHOU NIE. ONS VERRUIL, PERSOONLIKE INTEGRITEIT VIR TYDELIKE RYKDOM; GOD SE WYSE RAAD VIR SELFSUGTIG BEGEERTES. ONS KAN GOD NIE BEDRIEG NIE, EN TEN SPYTE VAN ALLES WAT HY SIEN, BIED HY ONS NOG GENADE AAN. HET JY DALK DIE BESTE IN DIE LEWE VERRUIL VIR DIE NAASBESTE? NEEM VANDAG NOG DIE REGTE BESLUITE EN PLAAS AL JOU VERTROUE OP GOD.

Skeuring van die ryk: Rehábeam koning van Juda, Jeróbeam koning van Israel.

1EN Rehábeam het na Sigem gegaan, want die hele Israel het na Sigem gekom om hom koning te maak.

2En net toe Jeróbeam, die seun van Nebat, dit hoor — hy was in Egipte waarheen hy vir koning Salomo weggevlug het — het Jeróbeam uit Egipte teruggekom.

3En hulle het gestuur en hom laat roep. Toe kom Jeróbeam met die hele Israel, en hulle het Rehábeam toegespreek en gesê:

4U vader het ons juk hard gemaak; maak u dan nou die harde diens van u vader en sy swaar juk wat hy ons opgelê het, ligter; dan sal ons u dien.

5En hy sê vir hulle: Kom oor drie dae na my terug. En die volk het gegaan.

6Daarop hou koning Rehábeam raad met die oudstes wat voor sy vader Salomo gedurende sy lewe gestaan het, en hy vra: Wat raai u aan om hierdie volk te antwoord?

7En hulle het met hom gespreek en gesê: As u vir hierdie volk goed is en hulle behaag en hulle met vriendelike woorde toespreek, sal hulle altyd u dienaars wees.

8Maar hy het die raad van die oudstes wat hulle hom gegee het, in die wind geslaan en raad gehou met die jongmanne wat saam met hom grootgeword en in sy diens gestaan het.

9En hy vra hulle: Wat raai julle aan dat ons hierdie volk sal antwoord wat my toegespreek en gesê het: Maak die juk wat u vader ons opgelê het, ligter?

10En die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, antwoord hom en sê: Só moet u die volk antwoord wat met u gespreek en gesê het: U vader het ons juk swaar gemaak, maar maak u dit ligter oor ons — só moet u hulle antwoord: My pinkie is dikker as my vader se lendene.

11Het my vader dan nou ‘n swaar juk op julle gelaai — ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig — ék sal julle met gésels tugtig.

12Toe Jeróbeam en die hele volk dan op die derde dag by Rehábeam kom soos die koning gespreek en gesê het: Kom na my terug op die derde dag —

13het die koning hulle ‘n harde antwoord gegee; koning Rehábeam het die raad van die oudstes in die wind geslaan

14en met hulle gespreek volgens die raad van die jongmanne en gesê: Het my vader julle juk swaar gemaak — ék sal daar nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig — ék sal julle met gésels tugtig.

15So het die koning dan nie na die volk geluister nie, want dit was ‘n beskikking van God, sodat die Here sy woord sou vervul wat Hy gespreek het deur die diens van Ahía, die Siloniet, tot Jeróbeam, die seun van Nebat.

16Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord en gesê: Watter aandeel het ons aan Dawid? En daar is geen erfdeel aan die seun van Ísai nie! Elkeen na sy tente toe, Israel! Sorg vir jou eie huis, Dawid! Daarop het die hele Israel na sy tente gegaan.

17Maar oor die kinders van Israel wat in die stede van Juda gewoon het, oor hulle was Rehábeam koning.

18Toe stuur koning Rehábeam Hadóram wat oor die dwangarbeid was, maar die kinders van Israel het hom gestenig, sodat hy gesterf het, en koning Rehábeam het hom geweer om op ‘n wa te klim, om na Jerusalem te vlug.

19So het die Israeliete dan afvallig geword van die huis van Dawid tot vandag toe.

GEDAGTE VIR DIE DAG 22 APRIL 2024

PSALMS 147

‘n LOF PSALM

NUWE HOOP

1LOOF die Here, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; ‘n loflied is gepas!

2 Die Here bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is.

3Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.

4 Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.

5Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.

6 Die Here rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe.

7Sing ‘n danklied tot eer van die Here, psalmsing tot eer van onse God met die siter;

8wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit,

9wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep.

10Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie.

11Die Here het ‘n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.

12 o Jerusalem, prys die Here! o Sion, loof jou God!

13Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; Hy het jou kinders binne-in jou geseën.

14Hy wat aan jou grondgebied vrede verskaf, wat jou versadig met die beste van die koring,

15wat sy bevel na die aarde stuur — sy woord loop baie vinnig.

16Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as.

17Hy werp sy ys heen soos stukke — wie kan bestaan voor sy koue?

18Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai — die waters loop.

19Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge.

20So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja!

GEDAGTE VIR VANDAG 19 APRIL 2024

OPENBARING 9

Die vyfde basuin of die eerste wee.

1EN toe die vyfde engel blaas, sien ek ‘n ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee.

2En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die put soos rook van ‘n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die put verduister.

3En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene van die aarde mag het.

4En aan hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige groenigheid of enige boom moet beskadig nie, maar net alleen die mense wat die seël van God nie op hulle voorhoofde het nie.

5En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van ‘n skerpioen wanneer hy ‘n mens steek.

6En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.

7En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense.

8En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus.

9En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog.

10En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen.

11En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion.

12 Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë.

Die sesde basuin of die tweede wee.

13EN die sesde engel het geblaas, en ek het ‘n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is,

14en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat.

15Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ‘n derde van die mense dood te maak.

16En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor.

17En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan.

18Deur hierdie drie plae is ‘n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het;

19want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan.

20En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.

21En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.

GEDAGTE VIR VANDAG 18 APRIL 2024

ROMEINE 1

Opskrif en seëngroet.

1PAULUS, ‘n dienskneg van Jesus Christus, ‘n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God —

2wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte,

3aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid

4en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here,

5deur wie ons genade en die apostelskap ontvang het om geloofsgehoorsaamheid te verkry onder al die heidene ter wille van sy Naam,

6onder wie julle ook is, geroepenes van Jesus Christus —

7aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!

Die geloof van die Romeine. Paulus se vurige verlange om hulle te sien.

8IN die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld.

9Want God, wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun, is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink

10en altyd in my gebede smeek of ek tog nou eindelik ‘n goeie geleentheid sal vind deur die wil van God om na julle te kom;

11want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word;

12dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my.

13Maar, broeders, ek wil julle nie daarvan onkundig laat dat ek my dikwels voorgeneem het om na julle te kom nie — en ek is tot nog toe verhinder — sodat ek ook onder julle een of ander vrug kan insamel net soos onder die ander heidene.

14Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek ‘n skuldenaar.

15Vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome is, die evangelie te verkondig.

Die regverdigmaking deur die geloof.

16WANT ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.

17Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.

Afgodery en verdorwenheid van die heidene.

18WANT die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk,

19 omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.

20Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

21omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.

22Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword

23en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.

24Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer —

25hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.

26Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is;

27en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.

28En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:

29hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;

30nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers;

31onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig,

32mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.

GEDAGTE VIR VANDAG 17 APRIL 2024

EWIGE LEWE

Die dood is ‘n deur na die ewige lewe,

Ek hoef nie meer daarvoor van angs te bewe.

God self het daardeur ingegaan

en die weg na die ewigheid vir my gebaan.

PSALMS 23

Die Here is my herder.

1 ‘n PSALM van Dawid.

Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.

2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

4Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Verander vandag nog jou lewe sodat jy beter toegerus is vir wat kom,

want Jesus het verseker dat jy tot in ewigheid sal lewe.

GEDAGTE VIR VANDAG 15 APRIL 2024

NAHUM 1

Die toorn van die Here oor sy vyande en sy goedertierenheid oor sy volk.

1 GODSPRAAK oor Ninevé. Die boek van die gesig van Nahum, die Élkosiet.

2’n Jaloerse God en ‘n wreker is die Here, ‘n wreker is die Here, en vol grimmigheid; ‘n wreker is die Here vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande.

3Die Here is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die Here ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete.

4Hy dreig die see en maak dit droog en laat al die riviere opdroog; Basan en Karmel kwyn weg, en die groenigheid van die Líbanon verwelk.

5Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon.

6Wie sal standhou voor sy grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn? Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom.

7Die Here is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.

8Maar met ‘n oorstromende vloed maak Hy ‘n einde aan die plek van die stad, en sy vyande vervolg Hy die duisternis in.

9Wat wil julle beraam teen die Here? Hy maak daar ‘n einde aan; die benoudheid sal nie twee maal opkom nie.

10Want al is hulle saamgevleg soos dorings, en soos hulle drank so deur en deur nat — hulle sal soos droë stoppels volkome verteer word.

11Van jou, o stad, het een uitgegaan wat kwaad teen die Here beraam het, wat verderflike planne gemaak het.

12So sê die Here: Al is hulle ook in volle krag en só groot in getal, tog sal hulle net só afgemaai word en vergaan. (Ek het jou verneder, Ek sal jou nie meer verneder nie;

13maar nou sal Ek sy juk van jou af verbreek en jou stroppe stukkend ruk.)

14Maar die Here sal dit oor jóú verorden: Van jou naam sal daar nie meer gesaai word nie; Ek sal uit die huis van jou god uitroei die gesnede en die gegote beelde; Ek sal vir jou ‘n graf maak, want jy is te lig bevind.

15Kyk, op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor: Vier jou feesdae, o Juda, betaal jou geloftes! Want die snoodaard sal nooit weer deur jou gebied trek nie; hy is heeltemal uitgeroei!

GEDAGTE VIR VANDAG 11 APRIL 2024

MIGA 4

Belofte van heil en seën in die Messiaanse tyd.

1EN aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom.

2En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem.

3En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.

4 Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die Here van die leërskare het dit gespreek.

5Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van die Here onse God vir ewig en altoos.

6In dié dag, spreek die Here, wil Ek versamel die wat kreupel is, en bymekaarmaak wat verdryf was, en die wat Ek kwaad aangedoen het.

7Dan sal Ek die wat kreupel was, tot ‘n oorblyfsel maak en wat ver verwyder was, tot ‘n magtige nasie. En die Here sal koning wees oor hulle op die berg Sion, van nou af tot in ewigheid.

8En jy, Skaapstoring, Heuwel van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy sal kom, die koningskap vir die dogter van Jerusalem.

9Waarom skreeu jy nou so hard? Is daar geen koning in jou nie? Of het jou raadgewer omgekom, sodat smart jou aangegryp het soos van een wat baar?

10Krimp inmekaar en bring voort, o dogter van Sion, soos een wat baar! Want nou sal jy die stad verlaat en op die veld gaan woon; en jy sal in Babel aankom — dáár sal jy gered word, dáár sal die Here jou verlos uit die hand van jou vyande.

11En nou is daar baie nasies teen jou versamel wat sê: Laat haar ontheilig word, en laat ons oë met welgevalle neersien op Sion.

12Maar hulle ken nie die gedagtes van die Here nie en verstaan nie sy besluit nie, dat Hy hulle versamel het soos gerwe op die dorsvloer.

13Staan op en dors, o dogter van Sion! Want Ek sal jou horing yster maak en jou kloue koper, en jy sal baie volke fyn trap; en jy sal hulle onregverdige wins aan die Here toewy en hulle rykdom aan die Here van die ganse aarde.

14Nou sal jy by hope bymekaar moet kom, o dogter van krygsbendes; die vyand het ‘n wal teen ons opgegooi; met ‘n stok slaan hulle die regeerder van Israel op die kakebeen.

GEDAGTE VIR VANDAG 10 APRIL 2024

HEBREËRS 8

Die ou verbond is ‘n voorbeeld en is verbygaande. Christus is die Middelaar van ‘n beter en ewige verbond.

1DIE hoofsaak nou van wat ons gesê het, is dít: Ons het so ‘n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele,

2’n Bedienaar van die heilige dinge en van die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ‘n mens nie.

3 Want elke hoëpriester word aangestel om gawes en offers te bring. Daarom moes Hy ook iets hê om te offer.

4Want as Hy op aarde was, sou Hy selfs geen priester wees nie, omdat daar priesters is wat volgens die wet die gawes offer,

5hulle wat ‘n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge bedien, soos Moses ‘n goddelike bevel ontvang het toe hy die tabernakel sou voltooi; want Hy het gesê: Kyk dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat jou op die berg getoon is.

6Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is.

7Want as daardie eerste een onberispelik was, sou daar nie plek vir ‘n tweede gesoek word nie.

8Want Hy berispe hulle en sê: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond tot stand sal bring,

9nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek die Here.

10Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

11En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle.

12Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.

13As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.